Toe ek hoor ek moet ’n hartoperasie ondergaan, was ek geskok. Ek kon dit moontlik nie oorleef nie! Was daar verhoudings wat herstel moes word? Of finansiële aangeleenthede waaraan ek aandag moes skenk? Al sou die operasie suksesvol wees, sou dit maande duur voordat ek kon werk. Watter werk kon ek vooraf afhandel? En wat van die dringende dinge – vir wie gee ek dit? Ek moes optree én bid.
Ek kon nie een van die twee doen nie.
My liggaam en verstand was uitgeput. Wanneer ek probeer bid het, het my gedagtes op my ongemak gefokus of het ek aan die slaap geraak. Dit was frustrerend. Ek kon nie werk of vir God vra om my vir my gesin te spaar nie!
Die onvermoë om te bid het my die meeste gepla. Maar soos met menslike behoeftes, het die Skepper my onvermoë geken. Ek het onthou dat Hy die gebed van die Heilige Gees vir ons gegee het wanneer ons nie kan bid nie (Rom. 8:26), asook  ander wat vír ons bid (Jak. 5:16; Gal 6:2).
Watter troos om te weet dat die Gees my bekommernisse aan die Vader voorlê, sowel as om van geliefdes te hoor wat vir my bid! Toe kom ’n verdere verrassing. Toe hulle my vra waarvoor hulle moet bid, het ek begryp dat God my antwoorde aan hulle ook as gebede aanhoor.
Dit is bemoedigend om herinner te word dat God in tye van onsekerheid ons harte hoor, selfs wanneer ons dink ons kan nie bid nie.