“Sy stukkie is groter as myne!”

Toe ek ’n seuntjie was, het ek en my broers soms gekibbel oor die grootte van die stuk tuisgemaakte pastei wat Ma vir ons gegee het. Op ’n dag het Pa ons manewales met ’n opgetrekte wenkbrou waargeneem en vir Ma geglimlag terwyl hy sy bord hou: “Gee vir my ’n stukkie so groot soos jou hart.” Ek en my broers het in geskokte stilte toegekyk hoe Ma lag en vir hom die grootste stuk van almal gee.

As ons op ander se besittings fokus, lei dit dikwels tot jaloesie. Tog rig God se Woord ons oë op iets van veel groter waarde as aardse besittings. Die psalmis skryf: “Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam. Ek smeek U met my hele hart: Wees my genadig, soos U beloof het” (Ps. 119:57-58). Geïnspireer deur die Heilige Gees het die skrywer die waarheid dat niks meer as die nabyheid van God saak maak nie, oorgedra . Kan ons ’n beter porsie as ons liefdevolle en onbeperkte Skepper hê? Niks op aarde kan met Hom vergelyk word nie en niks kan Hom van ons af wegneem nie. Menslike verlange is ’n uitgestrekte leemte. ’n Mens kan “alles” in die wêreld hê en steeds ongelukkig wees. Maar wanneer God ons bron van geluk is, is ons werklik tevrede. Daar is ’n ruimte binne-in ons wat net God kan vul. Hy alleen kan ons die vrede gee wat ons harte begeer.