Ek aanbid en dien God deur te skryf – selfs meer noudat gesondheidskwessies dikwels my mobiliteit beperk. Toe ’n kennis sê dat hy geen waarde aan my geskrifte heg nie, was ek moedeloos.
Deur gebed, Bybelstudie en aanmoediging van my familie en vriende het die Here bevestig dat slegs Hy – Â en nie die mening van ander nie – ons motiewe as aanbidders asook die waarde van ons offers aan Hom kan bepaal. Ek het die Gewer gevra om my te help om vaardighede te ontwikkel en geleenthede te skep om die hulpbronne wat Hy my gee met ander te deel.
Jesus het ons standaarde van meriete ten opsigte van wat ons gee, weerspreek (Mark. 12:41-44). Terwyl die rykes groot bedrae geld in die tempel se offergawekis gegooi het, het ’n arm weduwee twee munte wat “baie min werd [was]”, ingegooi (vs. 42). Die Here het verklaar dat haar offergawe van meer waarde was as dié van die ander (vs. 43), al was haar bydrae gering (vs. 44).
Hoewel dié verhaal op finansiële offers fokus, kan elke daad van gee ’n uitdrukking van aanbidding en liefdevolle gehoorsaamheid wees. Nes die weduwee, eer ons God met ons doelbewuste, vrygewige, en opofferende gawes uit álles wat Hy reeds vir ons gegee het. As ons God die beste van ons tyd, talente of skatte bied, met harte deur liefde gemotiveer, aanbid ons Hom met offers van kosbare aanbidding.