My man Jack het slegs veertig van die twee en veertig kilometer afgelê toe sy kragte hom faal.
Dit was sy eerste marathon en hy het dit sonder ’n hardloopmaat aangedurf. Nadat hy vir water gestop het, het hy uitgeput langs die baan gaan sit. Hy kon etlike minute lank nie opstaan nie. Net toe hy hom daarby berus dat hy nie die wedloop sou kon voltooi nie, kom twee middeljarige onderwyseresse by hom verby. Hoewel hulle vreemdelinge was, het hulle gaan staan en Jack gevra of hy saam met hulle verder wou hardloop. Skielik het hy sy kragte herwin, opgestaan, en saam met die twee vroue die wedloop voltooi.
Die dames wat Jack aangemoedig het, herinner my aan Aäron en Hur – die twee vriende wat Moses, die leier van die Israeliete, gehelp het met ’n belangrike kwessie (Eks. 17: 8-13). Die Israeliete is aangeval. Hulle het die geveg gewen, maar net so lank as wat Moses sy arms omhoog gehou het (vs. 11). Wanneer Moses moeg geword het, het Aäron en Hur “sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder” (vs. 12).
Om God te volg is nie ’n solo-poging nie. Hy het ons nie geskep om die wedloop van die lewe alleen te hardloop nie. Medegelowiges kan ons help om in God te volhard na die mate wat ons doen wat God ons geroep het om te doen.