John Newton het geskryf: “As ek op pad huis toe ’n kind teëkom wat ’n sent laat val, en as ek, deur vir hom ’n sent te gee, sy trane kan afvee, sal ek voel ek het iets gedoen. Natuurlik sal ek groter dinge wil doen, maar só ’n gebaar sal ek nie nalaat nie.”

Oral om ons is mense wat troos nodig het: ’n oorspanne kassier in ’n afdelingswinkel wat ’n tweede werk het om brood op die tafel te sit; ’n vlugteling wat huis toe verlang; ’n enkelma wie se vloed van bekommernisse haar hoop weggespoel het; ’n eensame bejaarde wie se vrese sy bruikbaarheid oortref.

Wat kan óns doen? Dawid sê: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke” (Ps. 41:1). Ons kan wel nie die armoede oral om ons verlig nie, maar ons kan dit in gedagte hou – aandag daaraan gee.

Ons kan mense wys dat ons omgee. Ons kan hulle met hoflikheid en respek behandel, al is hulle uitdagend en uitputtend. Ons kan met belangstelling luister na hul vertellings. Ons kan vir of saam met hulle bid – dít is definitief die mees uitstaande behulpsame en genesendste daad van almal.

Dink aan die ou paradoks wat Jesus ons gegee het toe Hy gesê het: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand. 20:35). Dit is altyd lonend om oplettend te wees, want ons is op ons gelukkigste wanneer ons onsself opoffer. Gee ag op die armes.