Ons gesin staan elke Saterdag aan weerskante van die resiesbaan om ons dogter wat aan die veldwedloop deelneem, aan te spoor. Nadat hulle oor die eindstreep is, stroom die atlete om weer by hul spanmaats, afrigters en ouers uit te kom. ’n Skare wat op die atlete toesak – dikwels meer as 300 mense – maak dit vir ’n mens moeilik om een persoon tussen so baie raak te sien. Ons tuur soekend totdat ons haar sien, gretig om ons arms om die een atleet vir wie ons kom ondersteun het: ons geliefde dogter, te slaan.
Ná 70 jaar van ballingskap in Babilonië het God die Jode na Jerusalem en Juda teruggebring. Jesaja beskryf God se behae in Sy volk, en die werk om die hoofweë voor te berei vir hul pelgrimstog huis toe, asook die poorte wat hulle terug sal ontvang. God bevestig opnuut dat Hý hulle as Sy heiliges geroep het en herstel hul eer met ’n nuwe naam: “Gewilde stad, stad wat nie verlate lê nie” (Jes. 62:12). Hy het hulle uit al die uithoeke van Babilon gaan haal en na Hom toe teruggebring.
Ons is, net soos Israel, God se geliefde kinders. Hy soek ons in alle erns op. Hoewel ons sonde ons eers van Hom geïsoleer het, het Jesus se offer vir ons die pad terug na God toe gereedgemaak. Hy soek ywerig tussen al die ander na elkeen van ons en wag gretig om ons in ’n hartlike omhelsing toe te vou.