Toe ’n groep tieners ’n tehuis vir bejaardes in Montego Bay, Jamaika besoek het, het ’n jong vrou ’n eensame man bespeur. Dit het voorgekom dat hy min in die wêreld behalwe sy bed gehad het – ’n bed waaruit hy, as gevolg van sy gestremdheid, nie kon beweeg nie.

Die tiener het dadelik die verhaal van God se liefde vir ons begin deel en Skrifgedeeltes vir hom gelees. “Terwyl ek met hom gedeel het,” sê sy later: “het ek sy gretigheid om meer te hoor begin gewaar.” In antwoord op sy belangstelling, het sy die wonder van Jesus se offerdood vir ons, verduidelik. “Dit was moeilik vir dié man, wat geen hoop of familie het nie,” onthou sy, “om te verstaan ​​dat Iemand wat hy nog nooit ontmoet het nie, hom só liefhet dat Hy vir sy sondes aan die kruis gesterf het.”

Sy het vir hom meer oor Jesus vertel – en van die belofte van die hemel (insluitend ’n nuwe liggaam) vir almal wat glo. Hy het haar gevra: “Sal jy dáár met my dans?” Sy het gesien hoe hy homself, vry van sy gedane liggaam en verlammende beperkings, begin verbeel.

Toe hy sê hy wou Jesus as sy Verlosser vertrou, het sy hom gehelp om ’n gebed van vergifnis en geloof te bid. Toe sy vra vir ’n foto saam met hom, het hy geantwoord: “As jy my help om regop te sit. Ek is ’n nuwe mens.”

Loof die Here vir die lewensveranderende, hoopgewende, beskikbaar-vir-almal evangelie van Jesus Christus! Dit bied nuwe lewe vir almal wat Hom vertrou (Kol. 1: 5, 23).