Selfs al is dit net ’n replika, is die tabernakel in die suide van Israel indrukwekkend. Lewensgroot gebou en so na as moontlik aan die spesifikasies wat in Eksodus 25-27 uiteengesit is (sonder werklike goud en akasiahout, natuurlik), staan ​​dit duidelik sigbaar in die Negev-woestyn. 

Toe ons toergroep deur die “Heilige” na die “Allerheiligste” plek geneem is om die “ark” te sien, het ’n paar van ons werklik gehuiwer. Was hierdie nie die heiligste plek, waar slegs die hoëpriester toegelaat was om in te gaan nie? Hoe kan ons net so ongeërg instap?

Ek kan dink hoe angstig die Israeliete moes gewees het elke keer dat hulle die tent van ontmoeting met hul offers genader het, met die wete dat hulle in die teenwoordigheid van die Almagtige God was. En die wonder wat hulle moes ervaar toe God ’n boodskap vir hulle, deur Moses, gelewer het.

Vandag kan ek en jy reguit, met vertroue, na God toe kom, wetende dat Jesus se offer die skeiding tussen ons en God afgebreek het (Heb. 12.22-23). Elkeen van ons kan te eniger tyd wat ons wil met God praat, en direk van Hom hoor as ons Sy Woord lees. Ons geniet ’n direkte toegang wat die Israeliete net van kon droom. Mag ons dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie en elke dag dié ontsaglike voorreg koester om na die Vader as Sy geliefde kinders te kom.