Ek het vir meer as 2 jaar by ’n kitskos-restaurant gewerk. Sommige aspekte van die werk was moeilik. Kliënte verwoord hul woede, terwyl ek om verskoning vra vir die ongewenste sny kaas op die broodjie, wat ek nie gemaak het nie. Kort nadat ek daar weg is, het ek aansoek gedoen vir ’n rekenaarwerk. Die werkgewers het meer in my kitskos-ervaring as my rekenaarvaardighede belanggestel. Hulle wou weet dat ek weet hoe om met mense om te gaan. My ondervinding in onaangename omstandighede het my voorberei vir dié werk!

Jong Dawid het deur ’n onaangename ervaring volhard. Toe Israel uitgedaag is om iemand te stuur om teen Goliat te veg, was niemand dapper genoeg daarvoor nie. Niemand, behalwe Dawid nie. Koning Saul was huiwerig om hom te stuur, maar Dawid het verduidelik dat as ’n skaapwagter hy ’n leeu en ’n beer, ter wille van die skape, doodgeslaan het (1 Sam. 17:34-36). Met selfvertroue sê hy, “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en … van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn” (vs. 37).

Om ’n skaapwagter te wees het nie veel respek vir Dawid besorg nie, maar dit het hom voorberei vir die geveg teen Goliat en om uiteindelik Israel se vernaamste koning te word. Ons mag in moeilike omstandighede verkeer, maar daardeur berei God ons dalk voor vir iets groter!