Dit wil voorkom asof daar deur sommige dae ’n tema loop, soos ek onlangs ondervind het. Ons predikant het sy preek, gegrond op Genesis 1, begin met asemrowende tydsverloopfotografie van ontluikende blomme. Tuis het talle plasings van blomme op sosiale media my verras. En later, toe ons in die bos gaan stap, het die lente se plate en plate veldblomme oral om ons gestaan.

Op die derde skeppingsdag het God blomme en elke ander soort plant – asook die droë grond om in te groei – geskep. Op daardie dag het God twee maal verklaar dat dit “goed” is (Gen. 1:10, 12). Op slegs een ander dag van die skepping – die sesde – het God die dubbele uitspraak: “goed,” gemaak (vv. 25, 31). In werklikheid het Hy op daardie dag – toe Hy die mens geskep en Sy meesterstuk voltooi het – “gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed” (v. 31).

Ons ontdek in die skeppingsverhaal ’n Skeppergod wat opgetoë was oor Sy skepping. Die blote daad om iets te skep het Hom volmaakte vreugde verskaf. Waarom anders sou Hy ’n wêreld met so ’n kleurvolle en verstommende verskeidenheid skep? Hy het ook die beste tot laaste toe gehou toe Hy “die mens geskep [het] as beeld van God” (v. 27). Hy gebruik Sy wonderskone handewerk om ons – Sy beelddraers – te seën en te inspireer.