Toe ons seun Xavier ’n kleuter was, is ons na die Monterey Bay Akwarium. By die ingang het ek gewys na ’n groot beeldhouwerk wat van die plafon gehang het: “Kyk, ’n boggelrugwalvis!”
Xavier se oë het gerek. “Reusagtig,” het hy gesê.
“Hoe ken hy daardie woord?” het my man gevra.
“Hy moes dit by ons gehoor het,” het ek gesê. Ek was verstom dat ons kleinman ’n woordeskat geabsorbeer het wat ons hom nie doelbewus geleer het nie.
In Deuteronomium 6 spoor God sy volk aan om doelbewus die jonger geslag te leer om die Skrif te ken en te gehoorsaam. Na die mate wat die Israeliete God beter sou leer ken, sou hulle en hul kinders Hom toenemend eerbiedig en sou hulle die beloning kon geniet wat voortvloei uit ’n intieme verhouding met Hom, algehele liefde vir Hom en gehoorsame navolging van Hom (vv. 2-5).
As ons ons harte en gedagtes doelbewus in die Skrif week, sal ons beter toegerus wees om gedurende ons daaglikse aktiwiteite God se liefde en waarheid aan kinders te demonstreer (v. 7). Wanneer ons die voorbeeld stel, kan ons jongmense toerus en aanspoor om die gesag en relevansie van God se onveranderlike waarheid te respekteer (vv. 8-9).
As God se woorde spontaan uit ons harte en uit ons monde vloei, kan ons ’n sterk erfenis van geloof nalaat wat oor geslagte strek.