Dit was tyd vir ’n nuwe groep leiers in ons kerk om hul amp op te neem. Om hul rolle as dienaar-leiers uit te beeld, het die ouderlinge deelgeneem aan ’n onvergeetlike voetwasseremonie. Elke leier, selfs die predikant, het mekaar se voete gewas terwyl die gemeente toegekyk het.

Wat die leiers daardie dag gedoen het, is volgens die voorbeeld wat Jesus gestel het, soos aangeteken in Johannes 13. In daardie insident, wat tydens die “Laaste Maal” plaasgevind het, het Jesus “van die tafel af opgestaan … water in ’n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was …” (Joh. 13:4-5). Jesus het later aan Sy dissipels verduidelik waarom Hy dit gedoen het en gesê: “… ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ’n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie” (v. 16). Hy het ook gesê: “… Ek is in julle kring soos die een wat dien” (Luk. 22:27).

As dit nie benede Jesus se waardigheid was om so ’n nederige taak te verrig nie, is dit ook nie benede enigeen van ons om ander te dien nie. Watter uitnemende voorbeeld het Hy nie vir ons gestel nie! Hy het inderdaad “nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien …” (Mark. 10:45). Uit Sy voorbeeld leer ons wat dit is om ’n leier sowel as ’n dienaar te wees. Jesus – die Een wat dien.