Jare gelede het ek en my seuns op ons rûe gelê en kyk hoe die wolke verbysweef. “Pa,” het een gevra, “waarom dryf wolke?” “Wel, Seun,” het ek begin. Ek was van plan om my uitgebreide kennis met hulle te deel, maar toe raak ek stil. “Ek weet nie,” het ek erken, “maar ek sal vir ons uitvind.”

Die antwoord, het ek ontdek, is dat gekondenseerde vog deur swaartekrag daal en dan in aanraking kom met die warmer temperature van die aarde af. Daardie vog verander in ’n mis en styg weer in die lug op. Dit is die natuurlike verduideliking vir die verskynsel.

Wanneer ons natuurverskynsels verduidelik, gee ons egter nie die finale antwoorde nie. Wolke sweef omdat God in Sy wysheid die natuurwette so verorden het dat hulle “die wonderlike werk van Hom wie se kennis volmaak is,” vertoon (Job 37:16). Op dié manier kan wolke  as ’n simbool beskou word – ’n uiterlike en sigbare teken van God se grootheid en genade in die skepping.

As jy eendag weer rustig raak en na die wolke kyk om te sien watter beelde jy daarin kan identifiseer, onthou dan: die Een wat alles mooi gemaak het, laat sweef die wolke in die lug. Hy doen dit om ons tot verrukking en aanbidding op te roep. Die hemele – selfs die cumulus-, stratus- en cirruswolke – maak die heerlikheid van God bekend.