Die ou foto’s wat by die doodsberigte in die koerant geplaas word, het vir my ’n besondere aantrekkingskrag en ek hou daarvan om die foto’s te bekyk. ’n Glimlaggende jongman in ’n militêre uniform en met ’n byskrif soos: 92 jaar oud, het in die Tweede Wêreldoorlog vir sy land geveg, of ’n jong dame met sprankelende oë: 89 jaar jonk. Het op ’n plaas in Kansas opgegroei tydens die depressiejare. Die onuitgesproke boodskap is: “Ek was nie altyd oud nie, weet jy.” Nogtans gebeur dit dikwels dat diegene wat ’n lang lewe gehad het soms voel asof hulle eenkant toe geskuif is. Maar Psalm 92 herinner ons daaraan dat al is ons ook oud, kan ons nog ’n vars en vrugbare lewe lei. Manne en vroue wat in God se vrugbare aarde geplant is, sal aanhou vrugdra en “fris en lewenskragtig” (Psalm 92:15) wees. Jesus het immers belowe: “Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte” (Johannes 15:5). Ja, die spiere mag styf voel, die lyf pyn en die lewe stadiger voortbeweeg, maar innerlik “word ons van dag tot dag vernuwe” (2 Kor. 4:16). Onlangs het ek ’n T-hempie gesien waarop ’n pragtige dame met silwer hare uitgebeeld is en met dié wyse woorde onderaan: “Ek’s nie 80 nie. Nee, ek is 18 met 62 jaar se ondervinding.” Maak nie saak hoe oud ons word nie, ons kan steeds jonk voel en ryk wees aan lewenswysheid en kennis.