Toe Christus mens geword het, het Hy getoon dat Hy gewillig is om versoek te word. Hy was bereid om gehaat en seergemaak te word. Hier op aarde het Hy dieselfde worstelinge ervaar wat ons daagliks deurmaak. Voordat Hy na die aarde gekom het, was Hy reeds simpatiek teenoor ons swakhede, maar toe Hy ’n menslike liggaam aangeneem het, het Hy op dramatiese wyse met ons geïdentifiseer. Sy menswording toon aan tot watter mate Hy bereid was om ly sodat ons vergifnis kan ontvang. Hy het ook die beproewinge wat die lewe vir ons moeilik maak, op Hom geneem.
Op ’n kleiner skaal probeer mense ook om empatie met die lyding van ander te betoon. In Amerika het ’n 30 jarige vrou haarself vir drie jaar lank as ’n bejaarde voorgedoen om te sien hoe dit voel om oud te wees. Wat sy geleer het, is genoeg om die hart te breek. Sy is beroof, beledig en banggemaak deur ’n wêreld wat nie meer deernis met bejaardes het nie.
Al gryp hierdie voorbeelde ons aan, is dit niks in vergelyking met die koms van Jesus na hierdie wêreld nie. Niemand anders het so ’n hoë posisie verlaat om te kom voel wat die mens op aarde beleef nie. Hy het die hemelse heerlikheid afgelê en is versoek net soos ons, maar Hy het nie gesondig nie. Hy het ons sondes aan die kruis gedra, sodat Hy ons genadig kon wees. Ons het Iemand wat omgee! Wanneer beproewinge kom, kan ons na Jesus gaan. Hy verstaan.