Jesus is God in die liggaam van ’n mens. Deur sy koms na hierdie wêreld, het Hy die Vader aan ons bekend gemaak. Dis wat Johannes bedoel het toe hy gesê het “die Woord het vlees geword.”
Die teoloog F.W. Boreham het hierdie waarheid bevestig toe hy geskryf het: “Die Christenmens moet die Christelike boodskap vergesel. Die Woord moet teen die korrekte, menslike agtergrond verkondig word… Die Woord het vlees geword, moet met die korrekte aksent en welsprekenheid wat onweerstaanbaar is, uitgedra word…Die woorde van die mens word slegs met passie en krag gevul, wanneer dit sigbaar word in die lewe van dié wat dit uitdra. En daarom kan die gedagtes van God slegs aan die mens oorgedra word, as dit só verkondig word.”
Boreham het ook aangehaal uit die werk van George Elliot wat gesê het: “Soms word woorde vlees; hulle blaas oor ons met ’n warm asem, hulle raak ons aan met sagte, deernisvolle hande, hulle kyk na ons met hartseer oë en hulle praat met ons met dringende stemtoon, hulle is gekleed in ’n lewende, menslike siel.”
Indien mense die evangelie moet “hoor” moet hulle dit ook kan “sien” in die lewens van diegene wat dit verkondig. Jesus het gesê: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik” (Matt. 5:16). Christene wat dit wat hulle glo uitleef, gee vlees aan die Woord. – Richard De Haan