Jare se moegheid weens chroniese pyn en frustrasie met my beperkte beweging het my uiteindelik ingehaal. Ek was ontevrede, veeleisend en ondankbaar. Ek het gekla oor my man se versorging en hoe hy die huis opruim. En al is hy die beste kok wat ek ken, het ek gekla oor die eentonigheid van ons geregte. Toe hy uiteindelik erken dat my gemor hom seermaak, was ek wrewelrig. Hy het geen idee gehad wat ék deurmaak nie. God het my uiteindelik gehelp om my verkeerdhede raak te sien en ek het Hom, asook my man, om vergifnis gevra.
Ons hunkering na ander omstandighede kan tot klaery lei, selfs tot ’n vorm van eiebelang wat ons verhoudings skaad. Die Israeliete was vertroud met dié dilemma. Dit het gelyk asof hulle nooit tevrede was nie en het altyd gekla oor God se voorsiening (Eks. 17:1–3). Hoewel die Here vir Sy mense in die woestyn brood uit die hemel (16:4) gegee het, wou hulle ander kos hê (Num. 11:4). Pleks van te jubel oor die daaglikse wonders van God se getrouheid en liefdevolle sorg, wou die Israeliete meer, beter, iets anders hê, of selfs wat hulle voorheen gehad het (vv. 4–6). Hulle het hul frustrasies op Moses uitgehaal (vv. 10–14).
Ons vertroue op God se goedheid en getrouheid bied ons ’n vaste greep op dankbaarheid, en ons kan Hom elke dag dank vir die vele maniere waarop Hy vir ons sorg.