Ek en my vrou was tydens ons vakansie by ’n atletiekkompleks. Die hekke, wat oop was, het ons as’t ware ingenooi. Ons het rondgestap en die goed versorgde sportvelde bewonder. Op pad uit is ons voorgekeer en kortaf ingelig dat ons nie veronderstel was om daar te wees nie. Ons het skielik besef dat ons buitestanders was, en dit het ons ongemaklik laat voel.

Ons was ook by ’n kerk tydens daardie vakansie. Weereens was die deure oop en ons het binnegegaan. Baie van die mense het ons hartlik gegroet en tuis laat voel. Ná die diens is ons weg met die wete dat ons welkom was en aanvaar is.

Tog is dit nie ongewoon nie dat buitestanders die boodskap: “Jy is nie veronderstel om hier te wees nie,” kry wanneer hulle ’n kerk besoek. Die Skrif beveel ons om aan almal goed te doen. Jesus sê  ons moet ons naaste liefhê soos onsself (Matt. 22:39) – dus: om hulle in ons harte en kerke te verwelkom. Ons word opgeroep om gasvry teenoor almal te wees (Heb. 13:2). Lukas en Paulus beveel ons om ons liefde vir mense met sosiale en fisieke behoeftes op praktiese maniere te betoon (Luk. 14:13–14; Rom. 12:13). Ons het ook ’n spesiale verantwoordelikheid om liefde aan medegelowiges te betoon (Gal. 6:10).

Wanneer ons alle mense hartlik en met Christus se liefde verwelkom, skyn ons Verlosser se liefde en deernis deur ons.