Terwyl ek eendag deur my oumagrootjie se Bybel blaai, het daar skielik ’n kosbare vonds op my skoot geval. Dit was ’n stukkie papier waarop daar in ’n bewerige kinderlike handskrif gestaan het: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matteus 5:3–4).
My oumagrootjie het haar kinders geleer om altyd teksverse uit te skryf sodat hulle dit kan onthou. My oupa en my ma se boetie is oorlede toe my ma nog baie jonk was. Dit was in dié droewige tyd dat my oumagrootjie my ma aan Jesus en die vertroosting wat slegs Hy kan gee, voorgestel het.
Paulus het aan Timoteus geskryf: “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Lois en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is” (2 Timoteus 1:5). Geloof word nie geërf nie, maar wel gedeel. Timoteus se moeder en ouma het hulle geloof met hom gedeel en hy het geglo.
Wanneer ons hulle wat na aan ons is aanmoedig om hulle hoop op Jesus te vestig, gee ons aan hulle ’n nalatenskap van liefde. Deur ’n eenvoudige notatjie het my ma die bewys van my oumagrootjie se liefde vir haar Verlosser en haar familie nagelaat. Hoe wonderlik om Hom, met ander wat na ons kom, te kan deel.