Ek verjaar ’n dag ná my ma. As adolessent het ek altyd na iets gesoek wat haar sou bly maak maar ook my begroting pas. Sy het my geskenke met groot waardering ontvang, en net die volgende dag, op my verjaardag, het sy haar geskenk aan my gegee. Dit was altyd ver beter as myne aan haar. Sy wou nie my geskenk aan haar afmaak nie, sy het bloot gulhartig gegee volgens die bronne tot haar beskikking, wat myne by verre oortref het.
My begeerte om vir my ma te gee, herinner my aan Dawid se begeerte om vir die Here ’n huis te bou. Die verlange om vir God ’n tempel te bou, is gebore uit die kontras tussen sy paleis en die tent waarin God Homself geopenbaar het. Pleks van Dawid se wens toe te staan, het God vir Dawid ’n uitermate beter geskenk gegee. God het nie slegs belowe dat een van Dawid se kinders (Salomo) die tempel sou bou nie (1 Kron. 17:11), maar ook dat Hy vir Dawid ’n huis, ’n vorstehuis, sou bou. Daardie belofte het by Salomo begin en sy uiteindelike vervulling in Jesus gevind. Sý troon is inderdaad “blywend (ge)vestig” (v. 12). Dawid wou sy beperkte bronne aanwend, maar God het hom iets oneindigs belowe.
Mag ons, soos Dawid, altyd beweeg word om uit dankbaarheid en liefde aan God te gee. En mag ons altyd sien hoe oorvloedig, hoe oneindig meer Hy ons in Jesus gegee het.