Die Kingston Trio het tydens die 1960’s die liedjie “Desert Pete” vrygestel. Die ballade vertel van ’n dorstige cowboy in die woestyn wat op ’n handpomp afkom. Langs die pomp is ’n nota van Desert Pete waarin hy die leser maan om nie die water in die fles te drink nie maar dit te gebruik om die pomp aan die gang te kry.
Die cowboy demp die versoeking om te drink en volg die instruksie. Sy gehoorsaamheid word beloon en hy ontvang ’n oorvloedige stroom koue, verkwikkende water. As hy nie in geloof opgetree het nie, sou hy net ’n fles warm, onsmaaklike water gehad het om te drink.
Dit herinner my aan Israel se reis deur die woestyn. Toe dors hulle oorweldig het, het Moses tot die Here geroep. Die Here het hom beveel om die rots by Horeb met sy staf te slaan. Moses het geglo en dit gedoen, en water het uit die rots gestroom (Eks. 17:1-7).
Israel het egter nie Moses se voorbeeld van geloof volhardend gevolg nie. Uiteindelik het “die prediking … hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie” (Heb. 4:2).
Soms blyk die lewe ’n bar woestyn te wees. God kan egter ons geestelike dors op die mees onwaarskynlike maniere les. Wanneer ons deur geloof die beloftes van God se Woord glo, ontvang ons riviere van lewende water en genade vir ons daaglikse behoeftes.