Die harde knal het my laat skrik. Ek het my kombuis toe gehaas. Ek het per ongeluk aan die skakelaar van die leë koffiemaker geraak. Ek het die toestel se muurprop uitgetrek en die fles aan die oor gegryp. Ek het aan die onderkant daarvan geraak om seker te maak dis nie te warm om op die toonbank neer te sit nie. Die gladde oppervlak het my vingerpunte gebrand en blase op my teer vel gevorm.
My man het my wonde versorg en ek het kopskuddend opgemerk: “Ek weet sowaar nie wat my besiel het nie!”
My reaksie het my herinner aan Paulus se reaksie op ’n veel ernstiger saak in die Bybel, naamlik die aard van die sonde.
Die apostel erken hy weet nie waarom hy die dinge doen wat hy nie moet en nie wil nie (Rom. 7:15). Hy stem saam dat die Skrif reg en verkeerd bepaal (v. 7), en hy erken die ware en komplekse stryd teen die sonde wat voortdurend tussen die gees en die vlees woed (vv. 15-23). Hy bely sy eie swakhede, en bied hoop en oorwinning vir die hede sowel as vir ewig (vv. 24-25).
Wanneer ons ons lewe aan Christus toewy, skenk Hy ons Sy Heilige Gees wat ons die krag gee om op die regte optrede te besluit. Omdat Hy ons in staat stel om God se Woord te gehoorsaam, kan ons die skreiende sonde vermy wat ons skei van die oorvloedige lewe wat God belowe het vir elkeen wat Hom liefhet.