Toe ek getrou het, het ek gedink ek sal dadelik kinders hê. Dit was egter nie die geval nie en die pyn van onvrugbaarheid het my op my knieë gedwing. Ek het dikwels tot God uitgeroep: “Hoe lank nog?” Ek het geweet God kon my omstandighede verander. Waarom het Hy nie?
Wag jy op God? Vra jy: Hoe lank nog, Here, voordat reg in ons land geskied ... voordat daar ’n kuur vir kanker is ... voordat ek nie meer skuld het nie?
Die profeet Habakuk het hierdie gevoel baie goed geken. In 7 v.C. het hy uitgeroep: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? Waarom ... kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral om my is daar verdrukking en geweld, en word daar getwis en baklei” (Hab. 1:2-3). Hy het lank gebid, geworstel om te verstaan hoedat ’n regverdige en almagtige God die boosheid, onreg en korrupsie in Juda kon laat voortgaan. Wat Habakuk betref, moes God lankal tussenbei getree het. Waarom het God niks gedoen nie?
Ons beleef ook dae wanneer dit vir ons voel asof God niks doen nie. Net soos Habakuk bly vra ons ook: “Here God, hoe lank nog?”
Tog is ons nie alleen nie. Net soos met Habakuk, hoor die Here ons sugte. Ons moet aanhou om ons laste op die Here te werp, want Hy sorg vir ons. God hoor ons, en op Sy tyd sal Hy ons antwoord.