Tydens die Rio Olimpiese Spele in 2016, het twee atlete in die 5 000m-wedloop die wêreld se aandag vasgevang. Na 3,200 meter van die wedloop het Nieu-Seelander, Nikki Hamblin, en Amerikaanse Abbey D’Agostino teen mekaar vasgehardloop. Abbey was vinnig op haar voete, maar sy het gestop om Nikki te help. Oomblikke nadat die twee atlete weer begin hardloop het, het Abbey gestrompel omdat haar regterbeen, as gevolg van die val, beseer is. Dit was nou Nikki se beurt om te stop en haar aan te moedig om die wedloop te voltooi. Toe Abbey uiteindelik oor die eindstreep struikel, was Nikki daar om haar te omhels. Watter pragtige beeld van wedersydse aanmoediging!

Dit herinner my aan ’n gedeelte uit die Bybel: “Twee vaar beter as een ... As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie” (Pred. 4:9-10). Soos atlete in ’n geestelike wedloop,  het ons mekaar nodig – miskien selfs meer, want ons wedywer nie met mekaar nie maar is lede van dieselfde span. Daar sal oomblikke wees wanneer ons sal fouteer en iemand nodig sal hê om ons by te staan; by ’n volgende geleentheid het iemand anders dalk ons bemoediging nodig.

Die geestelike wedloop moet nie alleen gehardloop word nie. Lei God jou om ’n Nikki of Abbey in iemand se lewe te wees? Reageer vandag op Sy aansporing en laat ons die wedloop voltooi!