Alles Wat Ons Nodig Het

Die Bybel In Een Jaar

2 Kronieke 15–16; Johannes 12:27–50

Lees Vandag

2 Petrus 1:1–11

Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken … 2 Petrus 1:3

Ek voel soms heeltemal ontoereikend om kategete te onderrig, vir ’n vriend raad te gee of vir hierdie publikasie te skryf. Dit lyk dikwels of die uitdaging my vermoëns oortref. Ek het, soos Petrus, baie om te leer.

Hy het gesukkel om die Here voluit te vertrou. Toe hy op die water na Jesus toe loop, het hy gesink (Matt. 14:25-31). Toe Jesus gearresteer is, het hy gesweer hy ken Hom nie (Mark. 14:66-72). Petrus se ontmoeting met die opgestane Christus en die krag van Sy Gees het egter sy lewe verander.

Petrus het begin verstaan dat “Sy Goddelike krag ons alles geskenk [het] wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag” (2 Pet. 1:3). Dít is ’n verstommende verklaring van ’n man wat soveel foute gehad het!

“[God] het ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan [ons] die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur” (v. 4).

Ons verhouding met die Here Jesus Christus is die bron van die wysheid, geduld en krag sodat ons God kan eer, ander help en uitdagings die hoof bied. Deur Hom kan ons ons huiwering en gevoelens van ontoereikendheid oorwin.

Hy gee ons in elke situasie alles wat ons nodig het om Hom te dien en te eer. —David McCasland

Dankie, hemelse Vader, dat U my alles gee wat ek vandag nodig het om U te dien en ander te bemoedig. Mag ek U eer in alles wat ek doen.

God belowe om alles te voorsien wat ons nodig het om Hom met ons lewe te verheerlik.