In die vroeë oggendure van 21 Desember, 2010 het ek iets ongeloofliks gesien, iets wat laas in 1638 n.C gebeur het, naamlik ’n volkome maansverduistering gedurende die winter sonstilstand. Die skadu van die aarde het stadig voor die skynende maan ingeskuif en dit het ’n donkerrooi kleur aangeneem. Dit was ongelooflik mooi, maar het my daaraan herinner dat alhoewel fisiese duisternis ’n deel van God se skepping is, is geestelike duisternis beslis nie. Die Skotse pastoor, Alexander McClaren, het opgemerk: “Verwerpte lig is die vader van die diepste duisternis, en die man wat die lig het, maar dit nie vertrou nie, omring homself met donker wolke van ongeloof en swaarmoedigheid.” Jesus het hierdie selfgemaakte geestelike duisternis van hart en verstand só beskryf toe Hy gesê het: “As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” (Matt. 6:23). Die wonderlike uitnodiging wat Kerstyd aan ons gerig word, is om ons harte vir die Verlosser oop te maak, Hy wat gekom het om ons duisternis te beëindig. Hy het gesê: “Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees … Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Joh. 12:36,46). Die wyse waarop ons uit die geestelike duisternis kan kom, is om saam met Hom in die lig te wandel.