Nadat die Amerikaanse TV persoonlikheid, Ed McMahon, in 2009 oorlede is, het een koerant die volgende oor hom geskryf. “Wanneer dit nodig was om die nr. 2 posisie te beklee, was hy regtig nr. 1.” Hy was veral bekend as die man wat vir 30 jaar Johnny Carson se ondersteunende hulp was. McMahon het daarin geslaag om Carson te help om baie suksesvol te wees en groot roem te verwerf, terwyl hy tevrede was om net ’n ondersteunende rol te vertolk. Toe Paulus instruksies gegee het oor hoe Christene as lede van die liggaam van Christus hulle gawes moet gebruik (Romeine 12:3-8) het hy die waarde van ondersteuning beklemtoon. Hy begin deur te sê dat ons “nie meer van onsself” moet dink nie (Rom. 12:3) en hy sluit af deur ’n beroep te doen dat opregte, onselfsugtige liefde betoon moet word. “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld” (vs. 10). J. B. Phillips het dit bietjie anders vertaal: “Wees gewillig dat die ander persoon die erkenning kry.” Ons gawes en talente is deur God aan ons gegee en moet in die geloof gebruik word in diens van Christus, tot eer van sy Naam en nie vir persoonlike erkenning nie. Mag die Here ons die genade gee om die ondersteunende rol met entoesiasme te vervul, indien Hy ons daartoe roep. Ons doel moet sy eer wees en nie ons s’n nie.