’n Vriend het vertel dat sy ouma een van die persone was wat die grootste invloed op sy lewe uitgeoefen het. Selfs nou, gedurende sy volwasse jare, het hy steeds ’n foto van haar op sy lessenaar. “Ek dink regtig dat sy my geleer het hoe om lief te hê,” sê hy. Nie alle mense is bevoorreg om sulke wonderlike, menslike liefde te beleef nie, maar deur Christus kan ons almal ondervind wat dit beteken om ’n geliefde van God te wees. In 1 Johannes 4 verskyn die woordjie liefde 27 keer en dit word gesê dat God se liefde, deur Jesus, die bron is van ons liefde vir God en ander mense. “Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes” (vs. 10). “Ons ken die liefde wat God vir ons het” (vs. 16). “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (vs. 19). God se liefde is nie ’n lekkende kraan of ’n put waarin ons moet grawe nie. Nee, dis ’n bruisende stroom wat vanuit sy hart na ons toe vloei. Wat ons agtergrond ook al mag wees, of dit vir ons voel dat ander ons liefhet of nie – ons kan weet wat liefde is. Ons kan uit God se onuitputlike bron put en weet Hy gee vir ons om en dat ons daardie omgee aan ander kan oordra. In Christus is ons waarlik geliefdes.