Gedurende Adam en Eva se verblyf in die Paradys, het vrede op aarde verlore geraak. Die oomblik toe hulle die verbode vrug geëet het, het hulle hul naaktheid besef en dadelik begin om mekaar te beskuldig (Genesis 3:12-13). So het konflik God se vreedsame planeet binnegekom. Ongelukkig het al hulle afstammelinge en ook ons, hulle voorbeeld gevolg. Ons blameer mekaar vir ons swak besluite en word kwaad as ander nie die skuld wil aanvaar nie. Deur ander vir ons ongelukkigheid te blameer, veroorsaak ons dat daar breuke kom tussen gesinne, kerke, gemeenskappe en volke. Ons kan nie vrede maak nie, want ons is so besig om ander te blameer. Kersfees is die tyd van vrede. Die Ou Testament vertel ons hoe God die toneel voorberei het, sodat Hy die Prins van Vrede kon bekendstel (Jesaja 9:6). Jesus het gekom om die siklus van sonde en beskuldiginge te verbreek en vrede te maak deur te sterwe en die prys te betaal (Kol. 1:20). In plaas van om ons te blameer vir die sonde en onvrede, het Jesus die skuld vir ons gedra. Hy is nou besig om vir Hom volgelinge bymekaar te maak – persone wat weer op hulle beurt ander sal motiveer om dit self te soek. Wanneer ons vergifnis van God ontvang, wil ons nie langer vergifnis van ander weerhou nie. En as ons in vrede met God lewe, wil ons ook met ander vrede maak. Ons kan hierdie Kersfees vrede ontvang sowel as om dit aan ander te gee.