Universiteitstudente huur ’n huis van my suster en haar man. Een nag het ’n dief probeer inbreek. Die jong dame wat daar woon, het dadelik die polisie geskakel en hulle vertel dat ’n inbraak aan die gang was. Die persoon wat die foon beantwoord het, het gesê: “Jy sal maar môreoggend moet skakel. Ons is op die oomblik te besig.” Die reaksie van die polisie was regtig ontstellend! Die jong dame het die regte prosedure gevolg deur die polisie te bel, maar haar oproep om hulp is net geïgnoreer. Sodanige optrede is onaanvaarbaar. Maar God is nooit te besig om te luister wanneer ons in die gebed tot Hom nader. Soms mag dit vir ons voel asof Hy nie luister nie, maar Hy luister wel. Hy gee om en Hy sal reageer. Die Bybel herinner ons daaraan dat God intens belangstel in alles wat ons beleef en ervaar: “Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep” (Psalm 145:18). Wanneer ons tot Hom roep, sal Hy antwoord. Ons sal nooit weggewys word nie. In plaas van om Homself terug te trek wanneer ons Hom aanroep, kom ons Hemelse Vader juis nader en is Hy bereid om ons te help. Hy is nooit te besig om sy kinders se dringende oproepe te hoor en daarop te reageer nie. Skep moed want ons Here hoor elke gebed en Hy sal antwoord.