Ek glo dat alles in die Bybel verband hou en dat alles belangrik is. Ek was nogal verbaas toe ek die Skriflesing in die November uitgawe van my dagboek (’n gedeelte uit 1 Petrus) gelees het en gesien het dat Petrus al vier temas rondom die wederkoms (die Advent) aanraak. Dis die tydperk op die Christelike kalender wanneer Christene die eerste koms van Jesus gedenk, terwyl hulle reikhalsend uitsien na sy wederkoms. Gedurende Advent word hoop, vrede, vreugde en liefde beklemtoon, dit wat God saam met Christus na ons gestuur het. HOOP. Ons het ’n erfenis wat in die hemel vir ons bewaar word, ’n lewende hoop deur die opstanding van Christus uit die dood (1 Petrus 1:3-5). VREDE. Ons sal goeie dae beleef indien ons wegdraai van die kwaad, die goeie doen en vrede najaag, want God waak oor ons en hoor ons gebede (1 Pet. 3:10-12). VREUGDE. Ons sal onuitspreeklike vreugde beleef al word ons beproef en ons geloof getoets. Die gevolge van hierdie geloof is die redding van ons siele (1 Petrus 1:6-9). LIEFDE. Ons kan mekaar met ’n rein hart liefhê, want ons is weergebore deur die lewende Woord van God wat altyd daar sal wees (1 Petrus 1:22-23). Omdat Jesus die eerste keer gekom het, kan ons hoop, vrede, vreugde en liefde beleef totdat Hy weer op die wolke kom.