Op 24 November 1971 het ’n man, vandag bekend as D. B. Cooper, ’n kommersiële vlug tussen Portland en Seattle geskaak en gedreig om die vliegtuig op te blaas as hy nie die bedrag van $200,000 ontvang nie. Nadat hulle geland het, sodat hy die geld kon ontvang, het hy beveel dat die vliegtuig weer moes opstyg. Hy het ’n rukkie later met ’n valskerm uit die 727 vliegtuig weggekom. Hy is nooit gevang nie en die saak is nog onopgelos. Hierdie gebeure het die veiligheid by lughawens baie verskerp en waar daar voorheen vertroue was, het agterdog en vrees oorgeneem. Wat hy gedoen het, het ons almal geaffekteer. Die Bybel beskryf twee optredes wat die wêreld op ’n baie belangriker manier verander het. Deur Adam se keuse het sonde en dood die wêreld binnegekom en “so het die dood tot al die mense deurgedring” (Romeine 5:12). Maar deur Jesus se offer aan die kruis het God ’n geneesmiddel vir sonde voorsien. “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling van alle mense … so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens, vrygespreek word” (Rom. 5:19). Christus het gedoen wat geen ander mens kon doen nie. Hy het die mag van sonde deur sy dood en opstanding verbreek. Hy bied verlossing en die ewige lewe aan almal wat sy gawe wil aanvaar. En daarvoor dank ons Hom met alles wat ons het en is.