Gedurende ’n besigheidsreis na Filadelfia, het ek elke oggend met Broadstraat in die rigting van die stadsaal gestap om die moltrein te haal. Elke keer het ek by ’n lang ry mense verbygestap wat blykbaar vir iets gewag het. Hulle was van alle ouderdomme, uit verskillende volke en met wisselende voorkoms. Nadat ek vir drie dae oor hierdie saak gewonder het, het ek eindelik ’n man gevra waarom die mense daar staan. Hy verduidelik toe dat hulle almal op borgtog vrygelaat is nadat hulle die wet oortree het, en nou gereeld getoets moet word om te sien of hulle skoon is van dwelms. Dit het my getref en laat dink dat ek ook nodig het om geestelik skoon te bly voor God. Toe die psalmdigter gewonder het hoe hy ’n rein lewe kon lei, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat hy God se Woord moes lees, daaroor nadink en dit gehoorsaam: “Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. Aan U kom die lof toe, Here … ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie” (Psalm 119:11,12,16). In die lig van God se Woord word ons bewus van ons sonde, maar ons sien ook die liefde van God in Christus. “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh. 1:9). Deur sy genade … bly ons skoon.