Jeremia is al by geleentheid die “treurende profeet” genoem. Hy het waarskynlik ’n sensitiewe natuur gehad en was melankolies ingestel. Hierdie feit, tesame met sy hartseer oor God se oordeel oor die volk Israel, het daartoe bygedra. Die omvang van sy hartseer is verbasend: “Ag, was my kop maar vol water en my oë ’n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het” (Jeremia 9:1). Asof sy bittere hartseer oor sy volk nie genoeg was nie, is hy nog vervolg as gevolg van die profetiese boodskap wat hy verkondig het. Jeremia is in ’n put gegooi “in die put waarin nie water was nie, net modder” (Jer. 38:6). Teenstand teen sy boodskap het die groot profeet in ’n toestand van wanhoop laat beland. Somtyds, in ons pogings om die Here te dien, beland ons ook in moeilike situasies wanneer ons voel ons kan nie verder nie. Maar die profeet se vermoë om probleme te hanteer en oor teenslae te triomfeer, behoort ons te motiveer om te volhard. Jeremia se bewustheid van die hemelse roeping was so sterk dat niks hom kon verhinder om die Here te dien. “En wanneer ek dink ek sal … nie meer in sy Naam praat nie dan word dit in my soos ’n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie” (Jer. 20:9). Was die resultate van jou arbeid vir die Here maar bra teleurstellend? Vra Hom om jou hart deur sy Gees te vernuwe, en volhard in sy diens, ongeag teleurstellings.