John Wooden, die legendariese afrigter van die UCLA basketbalspan, het ’n interessante reël vir sy spelers gehad. Wanneer ’n speler ’n doel aangeteken het, moes hy die persoon in die span wat hom daartoe gehelp het, erken. Toe hy ’n hoërskoolspan afgerig het, het een van die spelers hom gevra: “Coach sal dit nie te veel tyd in beslag neem nie?” Wooden het geantwoord: “Ek vra nie vir jou om oor te hardloop en hom ’n druk te gee nie, ’n kopknik sal genoeg wees.” Wooden het besef dat om oorwinnings op die veld te behaal, moes sy spelers leer dat hulle ’n span is, en nie ’n “klomp indiwidue nie.” Elke persoon in die span het bygedra tot die sukses van al die ander. Dit het my daaraan laat dink hoe die liggaam van Christus behoort te funksioneer. Volgens 1 Korintiërs 12:19,20 is elkeen van ons ’n aparte lid van een liggaam. “As almal saam net een lid was, hoe sou daar ’n liggaam kon wees? Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.” Is die sukses van ’n leraar, ’n leier van ’n Bybelstudie of ’n bediening, aan net een persoon se inisiatiewe te danke? Hoeveel mense in ’n gemeente dra by om alles in die kerk, ’n organisasie of ’n gesin vlot te laat verloop? Wooden se reël en 1 Korintiërs 12 is gegrond op die beginsel dat ons mekaar nodig het. Kom ons gebruik die gawes wat God ons gee om sy doel te bereik (vs. 1-11).