Dave Randlett is iemand wat ’n groot invloed op my uitgeoefen het, soveel so dat my lewe nooit weer dieselfde sal wees nie. Dave is in Oktober 2010 oorlede, maar hy was vir jare my mentor, veral gedurende my studentejare toe ek ’n nuwe bekeerling was. Hy het tyd bestee om my te help en ook vir my geleenthede gebied om in my bediening te vorder. Dave was God se instrument om my te help om by ’n musiekgroep betrokke te raak en as jeugprediker op te tree. Deur sy toedoen is ek gevorm en voorberei om God se Woord te verkondig. Ek is dankbaar dat ek by verskeie geleenthede my dank teenoor hom kon betuig. Net soos wat ek dankbaar was vir Dave se invloed op my lewe, was Paulus dank aan Priscilla en Akwila verskuldig. Hulle het saam met hom in die bediening gestaan. Hy sê “hulle het [hulle ] lewe vir my gewaag” en ook vir “al die gemeentes onder die heidennasies” (Rom. 16:4). Jy het beslis ook persone in jou lewe aan wie jy dank verskuldig is vir die geleenthede wat hulle jou gebied het om die boodskap uit te dra en ook die feit dat hulle jou geestelik beïnvloed het. Miskien is daar pastore, leraars, gemeenteleiers, familie en vriende wat hulleself gegee het om jou nader aan Christus te bring. Die vraag wat nou gevra word is: “Het jy al ooit dank teenoor hulle betoon?”