“Gebrek aan ambisie.” Dis nie woorde wat jy graag op ’n verslag van jou werksvermoë wil sien nie. Wanneer dit by werk en ’n betrekking kom, sal werknemers wat ’n gebrek aan ambisie toon, selde enige vooruitgang maak. Sonder ’n ernstige verlange om iets in die lewe te bereik, sal niks ooit tot stand kom nie. Maar ambisie kan ook ’n negatiewe kant hê. Soms is dit meer ’n kwessie dat so ’n persoon homself wil verhoog, eerder as om iets vir ander te doen. Dit was die geval met baie van Israel se konings, veral die eerste een. Saul het met nederigheid begin, maar gaandeweg het hy begin dink dat sy posisie hom tot ’n prominente status verhef. Hy het vergeet dat hy ’n spesiale opdrag van God ontvang het om die volk te lei op so ’n wyse dat ander volkere ook na Hom getrek word. Toe God hom uit sy pos onthef het, was sy enigste bekommernis sy eie situasie (1 Sam. 15:30). In ’n wêreld waar kompetisie kwaai is en mense verlang om in posisies te kom waar hulle invloed oor ander kan uitoefen, roep God sy kinders op om anders te lewe. Ons “moet niks uit selfsug of eersug doen nie” (Filip. 2:3) en “elke las van ons afgooi” (Hebr. 12:1). Indien jy iemand wil wees wat “na die top streef” maak dit dan jou ambisie om nederig te wees en God met jou hele hart, siel en verstand (Mark.12:30) lief te hê.