Ten spyte van baie oproepe was die straatlig reg voor my huis, steeds af. Omdat ons nie sypaadjies het nie en daar ’n groot afstand tussen die ligte is, is dit so belangrik dat elke lig moet brand. Ek was bekommerd dat ek dalk een van die skoolkinders kon raakry wanneer ek soggens vroeg by my hek uitry. Die tema lig word baie dikwels in die Bybel gebruik. Jesus het gesê dat Hy die lig vir die wêreld is (Johannes 9:5). Ons word opgeroep “om die wapens van die lig” op te neem, (Rom. 13:12-14) deur ons met die Here Jesus te beklee. Matteus 5vers 16 lees ons: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” ’n Lig wat nie skyn nie, beantwoord nie aan die doel waarvoor dit daar is nie. Jesus waarsku dat ’n lig wat onder ’n emmer geplaas is, ondoeltreffend is en dit moet liewer op ’n lampstaander geplaas word sodat alles om dit verlig word (Matt. 5:15). Ons optrede (die lig wat ons uitstraal) behoort ander mense na Jesus te wys, want Hy is die ware Lig. Ons het geen lig in onsself nie, ons kan slegs Christus se lig wat in ons is, reflekteer. God het elkeen van ons op ’n spesifieke plek geplaas waar ons sy lig die beste kan laat skyn. Moenie soos ’n uitgedoofde straatlamp wees nie. Skyn voort vir Jesus!