Voordat sy twee jaar oud was, het my kleindogtertjie al geleer om motors te herken en ook die fabrikaat en jaar van vervaardiging. Dit het alles begin toe sy en haar Pappa tyd saam deurgebring het en met sy versameling speelgoedmotors gespeel het. Pappa sou sê: “Katie, gaan haal die 1957 Chevy,” en dan sou sy dit tussen die honderde klein motortjies uitken. En eendag, terwyl hy vir haar voorgelees het uit ’n Curious George boek, het sy van sy skoot afgespring en gehardloop om ’n miniatuur Rolls Royce te gaan haal – ’n presiese replika van die prent in die boek. Indien ’n kind wat slegs twee jaar oud is, so iets kan doen, wys dit dan nie vir ons hoe belangrik dit is dat ons ons kinders van kleins af die regte dinge leer nie? Ons kan dit doen deur wat ek die Firm beginsel noem: Familiarity, Interest, Recognition en Modeling. Dit volg die patroon wat Moses in Deuteronomium 6 uiteengesit het. Volgens hom moet elke geleentheid gebruik word om die kinders Bybelse waarhede te leer, sodat dit deel van hulle lewens kan word. Gebruik hulle belangstelling as geleenthede om hulle te onderrig, waarhede aan hulle oor te dra en Bybelverhale met hulle te deel. Sodoende kan hulle geleer word om ’n toegewyde Christelike lewe te lei. Kom ons gee aan ons kinders daardie Firm fondasie deur hulle van God se liefde, Jesus se verlossing en die belangrikheid van ’n toegewyde lewe, te leer.