Iemand het my eendag gevra waarom sy nou soos Jesus moes word, terwyl sy tog eendag in die hemel soos Hy sou wees (1 Joh. 3:1-3). Belangrike vraag! Veral as dit baie makliker is om hier op aarde maar net jouself te wees. Om die waarheid te sê daar is baie redes waarom dit belangrik is om soos Hy te word, maar daar is een wat bo die ander uittroon. Wanneer ons eendag voor Hom staan, sal ons moet verslag doen van hoe ons hier op aarde geleef het, of ons volgens sy wil geleef het, of net ons eie gang gegaan het. Ons sal moet rekenskap gee of ons met “goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi” (1 Kor. 3:12,13) gebou het, sê Paulus. Alles wat ons doen ter bevordering van die uitbreiding van sy koninkryk – soos om betrokke wees in sy kerk, die armes te dien, geregtigheid en reg na te jaag soos Hy gedoen het – is om met silwer, goud en edelstene te bou, materiaal wat nie deur vuur vernietig sal word nie. Maar deur te bou met materiaal wat van ons gevalle natuur spreek, soos om altyd ons eie eer en voordeel soek, aardse begeertes en behoeftes na te jaag, onsself te bevorder – al daardie dinge sal tot as verbrand voor die vuur van God se heiligheid. Ek weet nie van julle nie, maar ek wil liewer vir Jesus so liefhê dat ek hier en nou soos Hy sal lewe, want om eendag in sak en as voor Hom te staan, is ondenkbaar.