Dit het sowaar weer gebeur! Ek het die begeerte gekry om my kantoor skoon te maak en voordat ek my kon kry, het ek ’n groter gemors gemaak en was die kantoor meer deurmekaar as voorheen. Orals het stapels papiere, tydskrifte en boeke gelê. Die gemors het al erger geword en ek was moedeloos en omgekrap omdat ek die skoonmakery begin het. Maar daar was niks wat ek daaraan kon doen nie. Toe die Here Moses geroep het om die Israeliete uit hulle slawerny te bevry, het die situasie ook eers al slegter geword. Dit was iets wat gedoen moes word, want die volk het desperaat tot God geroep en om verlossing gevra (Eks. 2:23). Moses was ook aanvanklik traag, baie traag om na Farao te gaan en namens die Hebreërs op te tree. En Moses se poging het nie goed gegaan nie. In plaas van om die volk vry te laat, het Farao hulle werkslas net swaarder gemaak en onmoontlike eise gestel. Moses wonder toe of hy ooit die saak moes begin het (Eks. 5:22,23). Dit was eers na baie probleme vir baie mense, dat Farao eindelik ingestem het dat die volk kon trek. Somtyds wanneer ons iets goed begin en seker is die Here wil hê ons moet dit doen, moet ons nie verbaas wees as die situasie eers slegter word, voordat verbetering intree nie. Dis nie ’n bewys dat ons verkeerd besluit het nie; dit herinner ons net daaraan dat ons God nodig het as ons iets wil bereik.