Onlangs is ek opgeroep om op ’n jurie te dien. Dis baie ongerieflik en veeleisend en vereis baie tyd, maar aan die ander kant is dit ’n ernstige saak. Op die eerste dag het die regter ons goed ingelig oor die verantwoordelikheid en die belangrikheid van die opdrag. Ons gaan ’n oordeel oor ander mense moet uitspreek, mense wat in die siviele howe beland het, of ander wat kriminele oortredings begaan het en in die hooggeregshof verhoor moet word. Ek moet erken dat ek baie onwaardig gevoel het, nie in staat om ’n oordeel oor ’n ander persoon uit te spreek nie. Om ’n persoon te oordeel is nie ’n eenvoudige saak nie, want ons is almal vol gebreke en mag dalk ’n verkeerde uitspraak maak. Alhoewel die regstelsels van die wêreld moontlik kan misluk en fouteer vanweë die gebreke van die mense wat dit hanteer, kan ons in alle situasies volkome op die Here vertrou, in die wete dat Hy altyd regverdig is en met wysheid optree. Die psalmdigter sing: “Die Here regeer, die wêreld staan vas, dit wankel nie; die Here sal die volke regverdig oordeel” (Psalm 96:10). Die Here oordeel altyd regverdig want Hy is Self foutloos en sy karakter onbesproke. Ons kan die Here vertrou al lyk dit soms vir ons asof die lewe onregverdig is, want ons weet dat Hy eendag alles, by die finale oordeel, reg sal stel (2 Kor. 5:10).