Is jou hart al ooit gebreek? Wat het dit veroorsaak? Was dit wreedheid, mislukking, ontrou, verlies? Miskien het jy ook al in die donker gaan sit en huil. Dis goed om soms te huil. “Trane is die enigste genesing vir hartseer,” het die Skotse prediker, George MacDonald, gesê. Ja, ’n bietjie trane kan soms goed wees. Jesus het ook gehuil toe Hy by die graf van sy vriend Lasarus gestaan het (Johannes 11:35). Hy ween ook saam met ons (Joh. 11:33). Sy hart het ook gebreek. Ons trane trek ons Here se aandag en Hy het deernis met ons as Hy ons trane sien. Hy weet van die slapelose nagte en sy hart pyn vir ons wanneer ons rou. Ja, Hy is “die Vader wat Hom ontferm en … in elke omstandigheid moed gee” (2 Kor. 1:3,4). En Hy gebruik ons, sy kinders, om ook ander mense te troos. Maar trane en die behoefte aan troos en bemoediging, is iets wat te algemeen in hierdie ou wêreld voorkom. Huidige troos is nie die finale antwoord nie. Daar is ’n dag in die toekoms wanneer daar geen dood meer sal wees nie, geen hartseer, geen trane, want dan het al daardie “dinge van vroeër … verbygegaan” (Openb. 21:3,4). Daar in die hemel sal die Here al ons trane afvee. Ons is vir die Vader so kosbaar dat Hy alle trane in ons oë, sal wegneem. Hy het ons innig lief, ja,vir elkeen van ons persoonlik. Onthou: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt. 5:4).