’n Hotel wat 60 jaar oud is, word nou gerepareer en in wooneenhede ingedeel. ’n Verroeste skip wat al lank in die hawe van Filadelfia lê, word herstel en sal moontlik in ’n hotel of museum omskep word. Hangar 61, ’n argitektoniese skepping by die ou Stapleton Lughawe in Kolorado, wat deur die jare baie bewonder is, word in ’n kerkgebou omskep. Al hierdie strukture het eens ’n spesifieke doel gedien maar is nou nie meer doeltreffend nie. Tog het iemand gesien dat daar ander moontlikhede is. Indien strukture ’n nuwe doel kan dien, waarom nie mense nie? Dink aan persone in die Bybel wie se lewens ’n onverwagte wending geneem het. Daar was Jakob wat met die engel van God geworstel het (Gen. 32), Moses wat met ’n brandende bos gepraat het (Eks. 3) en Paulus wat tydelik blind geword het (Hand.9). Hulle verhale verskil, maar al drie het ’n nuwe doel in die lewe gekry. God het hulle lewenspad verander. Ons mag ook omstandighede tegemoetgaan waardeur ons lewensrigting verander sal word. Maar God belowe ons: Ek het jou nog altyd liefgehad, lank voordat jy My liefgekry het. Ek wil jou nuwe hoop en ’n nuwe toekoms gee. Werp al jou bekommernisse op My, want ek gee om vir jou (1 Joh. 4:19; Jer. 29:11; 1 Petrus 5:7; Joh. 10:10). Terwyl jy aan die beloftes van God vashou, vra Hom om die nuwe lewensrigting wat Hy vir jou beplan, aan te dui.