Ek het ’n goeie vriend met wie ek soms gaan visvang. Hy is ’n denker en nadat hy sy stewels aangetrek en sy gereedskap reggekry het, sit hy eers ’n lang ruk op sy bakkie en bekyk die rivier om te sien of daar visse in die water doenig is. Dan sê hy: “No use fishing where they ain’t”. Daar is gesê dat Jesus “’n vriend van tollenaars en sondaars” (Lukas 7:34) is. Ons as Christene behoort ook anders as die wêreld te lewe, maar nogtans in die wêreld te wees (in die wêreld, maar nie van die wêreld nie). Daarom moet ons onsself afvra: “Het ek, soos Jesus, vriende wat sondaars is?” As ek net Christene as my vriende het, dan is ek waarskynlik besig om vis te vang waar daar geen visse is nie. Om tussen ongelowiges te wees, is die eerste stap wanneer ek wil “visvang.” Dan kom liefde –daardie deernis wat onder die oppervlakte kyk en sien wat die dieper nood van die siel is. Daardie liefde vra: “Vertel my meer van jou probleme” en tree dan met diepe deernis en liefde op. Pastoor George Herbert (1593-1633) het gesê dat daar baie prediking in vriendelikheid en deernis is. Sodanige liefde is nie ’n natuurlike instink wat sommer vanself kom nie, Dit kom direk van God af. Daarom bid ons: “Here, ek is vandag tussen ongelowiges, mag ek die nood aanvoel, die vreugdelose woorde hoor, die uitgeputte voorkoms sien, die hartseer in die oë, alles dinge wat ek so maklik in my eie selfgenoegsaamheid kan miskyk. Mag ek daardie liefde openbaar, daardie liefde wat voortspruit vanuit U en u liefde. Mag ek in staat wees om te luister na wat ander sê, deernis aan ander te betoon en in alles net die waarheid praat.”