In ’n poging om gesinne in ons omgewing wat in hierdie moeilike tye in nood verkeer en nie vir hulle afhanklikes kan sorg nie, by te staan, het ons kerk ’n program begin wat Free 4 All genoem word. Ons bring almal gebruikte items wat nog in goeie kondisie is na die kerk en dan kan behoeftiges in ons gemeenskap kom en alles neem wat hulle nodig het. Die dag was ’n reuse sukses, nie slegs omdat ons in so baie mense se behoefte kon voorsien nie, maar ook omdat ses mense op daardie spesifieke dag tot bekering gekom het. Ja, ses nuwe gelowiges het aan die grootste Free 4 All deelgeneem deur Jesus as Verlosser aan te neem. Die items wat op hierdie spesifieke dag aangebied is, is deur lidmate gekoop en is toe gratis aangebied aan enigeen wat dit nodig gehad het en daarvoor gevra het. Net so is daar ook vir die vergifnis van ons sonde en die redding van ons siele betaal, en wel deur Jesus Christus toe Hy ongeveer 2000 jaar gelede aan die kruis op Golgota gesterf het (Romeine 3:23-25). Hy bied nou gratis verlossing aan almal wat hulle sonde bely en glo dat Jesus die mag het om hulle te vergewe en van die verdoemenis te red (Handelinge 16:31). Almal van ons het geestelike nood en slegs Jesus Christus kan in daardie nood voorsien. Het jy al die verlossing wat Hy aanbied aangeneem? Dit is as ’t ware die wêreld se grootste Free 4 All.