Vir baie jare het ek saamgestem met diegene wat die Here kwalik neem omdat Hy pyn in die lewe toelaat. Ek kon myself nie versoen met ’n wêreld waarin soveel ellende en smart aanwesig is nie. Ek het baie mense besoek wat deur moeilike tye gegaan het en wie sy pyn erger was as myne, en ek was verbaas wat die effek daarvan was. Dit het my gelyk asof pyn twyfel, sowel as geloof, kan veroorsaak. My woede ten opsigte van lyding het om een rede afgeneem, naamlik die feit dat ek Jesus ontmoet het. Hy het my vreugde, vrede, liefde en blydskap gegee. Dit het my die geloof in ’n Persoon gegee, ’n geloof so vas en seker dat geen lyding of pyn dit enigsins kan affekteer nie. Waar is God wanneer dit seermaak? Hy is van die begin af daar. Hy het ’n pynsisteem ontwerp wat in hierdie gebroke wêreld sy stempel dra. Hy omvorm pyn en gebruik dit as hulpmiddel om ons na Hom te laat draai sodat Hy ons geloof kan versterk. Hy het gely, gebloei, gehuil en die ergste pyn beleef. Hy deel die pyn van elkeen wat ly. Maar onthou, eendag sal Hy die leërmagte van die hemel oproep en hulle teen die vyande van God opstel. Die wêreld sal nog een verskriklike oomblik van lyding beleef, voordat die ewige oorwinning behaal word. Dan sal God vir ons ’n ongelooflike nuwe wêreld skep. En dan sal daar geen pyn meer wees nie (Openb. 19:11-22:6).