My beroep het te doen met woorde. Óf ek nou skryf, óf redigering doen, ek gebruik woorde om die idees en gedagtes oor te dra sodat lesers dit kan verstaan. Ek kan gewoonlik maklik sien of iets met ander se skryfstyl fout is (maar somtyds nie met my eie nie), en in meeste gevalle is ek in staat om dit reg te stel. Ek is ’n redakteur en word betaal om krities te wees. My taak is om te sien wanneer woorde verkeerd gebruik word. Maar indien ek hierdie kritiese houding na my persoonlike lewe oordra en gedurig soek na wat verkeerd is, kan ek die goeie dinge in die lewe so maklik miskyk. Paulus het rede gehad om te fokus op die probleme wat in die kerk van Filippi aanwesig was. Daar was mense wat die evangelie met verkeerde motiewe verkondig het, bloot omdat hulle tot Paulus se lyding wou bydra (Filip. 1:16). Maar in plaas daarvan dat hy hierdie dinge negatief beoordeel het, het hy positief gebly en hom verheug dat die evangelie verkondig word (Filip. 1:18). Die Here wil hê ons moet kan onderskei – ons moet kan sien wat goed is en wat sleg is – maar tog wil Hy nie hê dat ons op die negatiewe moet konsentreer en gevolglik moedeloos word nie. Selfs wanneer omstandighede moeilik is, (Paulus was in die tronk toe hy hierdie woorde geskryf het) kan ons nog altyd iets goeds vind om oor bly te wees in die sekere wete – God is nog aan die werk.