Dis onvermydelik dat ons probleme en hartseer sal ondervind. Miskien sal dit ’n negatiewe mediese verslag wees, of ’n getroue vriend wat ons in die steek laat. Miskien is dit huweliksprobleme en ’n eggenoot wat ons verlaat. Daar is baie moontlikhede, maar daar is net twee opsies hoe dit hanteer kan word: ons kan óf op ons eie voortsukkel, óf ons tot die Here wend. Om alleen die probleme en moeilikhede aan te durf, is nie ’n goeie plan nie. Dit kan daartoe lei dat ons die Here blameer en eindelik ’n mislukking van alles maak. Ons mag dalk, net soos die Israeliete, in wanhoop en ellende verval (Num.14:1-4). Toe die verspieders teruggekeer het, het die meerderheid vertel van die reuse in Kanaän en die gevare wat hulle daar te wagte sou wees. Hulle het die woordjie “ons” herhaaldelik gebruik, maar nie een keer na God verwys nie (Num.13:31-33). Die Israeliete het op die punt gestaan om die beloofde land binne te gaan. Hulle het al die wonderwerke in Egipte beleef, op droë grond deur die Rooi See gestap en God se wonderlike getrouheid beleef. Nogtans het hulle alles vergeet! Hulle sien net die probleme. Wat ’n teleurstelling en gebrek aan geloof! Hulle het die rug op God gedraai en so die seën prysgegee, Kaleb en Josua het egter die Here vertrou en gelowig verklaar. “Die Here is by ons” (14:9). Wanneer reuse jou pad kruis, wat gaan jy doen?