Ek dra slegs twee stukke juweliersware, naamlik die trouring aan my vinger en ’n klein kruisie wat om my nek hang. Die ring aan my vinger herinner my aan die belofte wat ek aan my vrou, Carolyn gemaak het en dat ek getrou aan haar moet wees. Die kruis herinner my daaraan dat ek nie net ter wille van haar getrou moet wees nie, maar ook ter wille van Jesus. Hy het my gevra om getrou aan haar te wees, totdat die dood ons skei. Die eed wat ons tydens ons huweliksbevestiging neem, is nie slegs ’n kontrak wat ons kan verbreek wanneer ons so voel nie. Dis ’n unieke eed wat bindend is, totdat die dood ons skei (Matt. 19:6). Die belofte dat ons in voorspoed en teenspoed, in rykdom en armoede, in gesondheid en siekte, bymekaar sal staan, toon duidelik dat dit nie altyd maklik sal wees om die beloftes na te kom nie. Omstandighede kan verander en so mag ook ons lewensmaats verander. Huwelike is in ’n sekere sin moeilik, want verskille van opinie en moelike situasies duik op. Aanpassing is nie altyd maklik nie. Terwyl niemand in lewensgevaarlike verhoudings moet lewe nie, is dit belangrik dat egpare armoede, moeilikhede en teleurstellings moet aanvaar. Dan kan so ’n huwelik gelukkig wees. Die belofte dat ons mekaar sal eer, liefhê en koester is belangrik, omdat Jesus dit van ons vra. ’n Vriend het onlangs opgemerk: “Dis die eed wat ons getrou hou, al voel ons nie lus om dit te hou nie.”